die lelies van die veld

20 Januarie 2022

die stil man (5 jaar terug)

dit is my stapmaat en ons oefen vir die Camino
as ons ses-uur op ‘n Saterdag-oggend begin stap
dan loop hy voor en vinnig
sy vuiste gebal van al die spanning
genade, sê almal
hierdie man praat nie ‘n woord nie, hoe hou jy dit?

dan sê ek nee, mens moet hom kans gee
so vier kilometer in, dan sien ek sy hande val oop so ses kilometer in, dan raak sy pas draaglik so tien kilometer in, dan vertel hy my allerhande stories
as ons stop om asem te skep en die kosblik oopmaak dan gaan lê hy in die gras en lag
en sy oë weerspieël die blou lug

dis hy wat my geleer het om die muntstukke op te tel as ons so stap
dis oral
op teerpaaie, op grondpaaie en op voetpaaie

dit was eers so twintig kilometer voor Santiago in Spanje
waar ek op ‘n dag vasgesteek het
nou loop jy maar alleen, ek kry jou in Santiago, het ek gesê
want ons het die vyftien-dae roete in twaalf-dae klaargeloop
en daai dag het ek finaal geweet
hierdie is nie my ritme nie
mens kan nie iemand wat hardloop rem nie
en ek het geweet
dit maak nie saak dat sy hande oopval as ons stap nie
voor ons by die kar kom
is sy hande klaar weer in spanning opgebol

maar ek het hom nie vergeet nie
en ek het ‘n rooi blik vol opgetelde muntstukke wat my nou by my eintlike storie bring


14 Januarie 2022

ons vier my verjaarsdag
ons kom nie by die koek en tee uit nie want ons praat te veel
ons is al vriende vir sewe-en-veertig jaar
ons praat oor die lewe

sy vertel my van haar man se preek
dit help nie meer om van die mossies op die een sent stuk te praat nie
die een sent stukke is baie, baie skaars
toe vat hy die tien sent
die een met die lelies op

en toe vertel sy my haar storie
dat sy altyd muntstukke optel
en sy praat oor haar besigheid
en toe dit met haar moeilik gaan
vat haar vriendin vyf van haar tiensent stukke
en plant dit in haar potplant
profeties
en in geloof
soos die vyf broodjies jy weet…
sodat haar inkomste
en haar besigheid kan groei

en daarna
kyk sy elke dag van haar lewe uit vir daardie muntstukke
want dit is ‘n teken
en dit bou haar geloof

toe gaan ek huis toe
en ek keer die rooi blik uit
en ek soek elke tien sent stuk en sit dit op ‘n hoop
want ek wil ook ‘n paar profeties plant
en my geloof bou
en elke dag van my lewe onthou
dat HY in beheer is

Daarom sê ek vir julle: Hou op om bekommerd te wees oor julle lewens, oor wat julle sal eet of oor wat julle sal drink, of oor julle liggame, oor wat julle sal aantrek. Beteken die lewe nie meer as kos en die liggaam meer as klere nie? Hou die voëls van die hemel goed dop. Hulle saai nie saad nie en hulle oes nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie, maar tog sorg julle hemelse Vader dat hulle kos het. Is julle nie meer werd as hulle nie? Wie van julle kan een el by sy lewe voeg deur hom te bekommer? En hoekom is julle bekommerd oor klere? Leer ’n les by die lelies van die veld, hoe hulle groei. Hulle sloof hulle nie af nie, en hulle spin ook nie, maar ek sê vir julle dat nie eers Salomo met al sy prag en rykdom soos een van hulle geklee was nie. As God dan die plantegroei van die veld so klee, wat vandag hier is en môre in die oond gegooi word, sal hy julle nie veel eerder klee nie? Waar is julle geloof?
Mattheus 6:25-30

ek gaan al hierdie plant want ek kort baie geloof

die res het ek in lavender olie gedompel

soos altyd is daar maar ‘n les
ek is so bly ek het saam met die stil man geloop
en dat hy my geleer het om muntstukke op te tel
want hier, vyf jaar later kry dit betekenis

16 thoughts on “die lelies van die veld”

  1. Lisa! Dat ek nou 2h00 wakker is en worstel en op hierdid af kom…..ek glo dis so bestem. Ek kry hoendervleis oor die tydsberekening. Ses ure terug het ek gevra…praat met my asb! Wys my! Nou wakker geword en iets gedoen wat ek nooit doen. WP oopgemaak. En hierdie kosbare stuk gelees. Baie dankie.

    1. Liefste Woordnoot, ek is bly dit het iets beteken. Soek joune, plant hulle en ek bid vir jou ook vir oorvloedige seën. En vrede. En dat jy vanaand goed sal slaap! ☘☘☘

  2. Dankie vir jou skrywe en dat jy dit kom plaas het, Liza! Ek vat hierdie ook vir my, want my en manlief se nuwe rigting kan net gebou word op Mattheus 6.

  3. Pingback: “In abundance.” – Una se gedagtes

  4. En byna agt maande lees ek weer hierdie stuk. Ek het so tydjie terug geskryf oor my tien sent journey waarop ek nou is. Vanoggend was ek weer effe moedeloos want die tyd stap aan en daar is nog nie juis ‘n plan nie, en ek lees hierdie weer en weer praat die Here met my. Ek plak al my tien sente op n mooi koevert…..dalk moet ek ook ‘n paar plant!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Share on social

South Africa’s Protection of Personal Information Act (POPIA) & Cookie Consent

We will not sell, share, or rent your Personal Information to any third party or use your email address for unsolicited mail. Any emails sent by us will only be in connection with the provision of our services and/or the marketing thereof. We use cookies on our website to give you the most relevant experience by remembering your preferences and repeat visits. By continuing in the website you accept the use of cookies.