12 Februarie 2025

So word ek genooi om die naweek saam met Heine en Charlotte weg te breek. Dit beteken natuurlik kwaliteit tyd met Sméagol en Gimli. Dit is te lekker om stoet te ry agter hulle en die mooi honde se hare in die wind te sien waai.
Vrydag Middag


Foto krediet: Charlotte Smit – https://www.instagram.com/sunroof_surfers?igsh=MWNyYjJnZGhjcjRieQ==
Die steilte op pad na ons slaapplek.




Saterdag Oggend
Ons stap 5km en my horlosie prys my heel pad. Ons elevation staan op 19.



Saterdag Middag
Laatmiddag vra Sméagol en Gimli vir nog ‘n stappie. Ons voeg nog 2.5 km by.


Die braaivleis vuur brand net lekker toe die wolke oopbars en die water neergiet.


Saterdag Aand
Ons verlustig ons in die koel bries en speel speeltjes. Charlotte se ogies val van volmaan, na halfmaan en toe sy haar kop agteroor buig om deur skrefies te loer, gaan slaap ons vergenoegd.
Sondag Oggend
Ons eet ontbyt, geniet die laaste stukkie stilte en die mooi uitsig voordat ons rustig terug stoet Pretoria toe.

Nabetragting
Daar kom tye in mens se lewe waar woorde opdroog en gedagtes hul rusplek kry. Hierdie naweek was stil in my hart en my kop maar daar was heelwat kolletjes waartussen ek lyne kon trek om by aanvaarding te probeer uitkom. Verlede jaar toe Heine en Charlotte hier was kon sy die 5km saam met hom, Sméagol en Gimli stap. Hierdie jaar was sy nie in staat om dit te doen nie. Ons kon ‘n stukkie saam stap Saterdag laatmiddag, maar Heine moes die kar gaan haal om haar terug te neem na ons huisie.
Haar lewe en wil sal vir altyd in my hart gegraveer bly. The will to survive.

Ek het die hele tyd aan haar gedink terwyl sy nie saam met ons gestap het nie. Ek wou vir haar wys – kyk! selfs die klippe skree uit om die laaste twintig jaar van jou lewe te gedenk.


Here!
Gee my die wysheid om te weet wat ek moet doen.
Gee my insig om te verstaan daar waar woorde nie kan kom nie.
Gee my tyd om elke oorblik vas te vang.
Gee my geduld om te wag.
Gee my vrede vir die gedeelte wat uitgemeet is.
Gee my stilte om te kan hoor wat ek nodig het om te hoor.
Gee my vrede...
Maak my vrede...
Wees my vrede...
