memory lane

14 Mei 2017

ek het vandag al langs die kus afgery
‘n trip down memory lane

mtwalumi
hibberdene
scottbury

 

 

volume 1:  1978 ~ 1981

margate

ek onthou
hoe kwaai my pa was
en jy was vies
omdat ek nie club toe kon gaan nie

ma het besluit jy is nie goed vir my nie
en toe droog jou briewe op
en ek huil op chris de burgh se hold on
dis eers twee jaar later
wat jy in my vas swem hier op margate
dat die waarheid uitkom

jy het bly skryf
vir lank
gewag dat ek moet antwoord
en toe kom daar niks
toe is jy besig met oorlog
en jy hou op wonder

toe ons by die huis kom
toe gee my ma vir my jou hopie briewe
buite-op die stempel
gesensor
maar binne-in is warm gevoelens
en bang
wat nie by my uitgekom het nie

st michaels on sea

ma het met my geraas oor jou
sy het gesê ek trap op blomme hier voor my voete
omdat ek my oë gevestig hou op die horison
jy was seker ‘n goeie opsie
maar ek het geweét daardie dag by st michaels
toe jy my wou beïndruk
en jy amper my sussie versuip
omdat jy nie geweet het daar is
‘n gevaarlike dip nie
as jy haar nie kan bo hou nie
hoe op aarde sou jy met my kon deal?
ek wonder steeds soms
hoe my lewe sou wees
as ek jou gekies het

uvongo

ek weet regtig nie hoe dit gekom het
dat jy saam met ons was nie
ek dink my ma het baie van jou gehou
en ek weet jy het baie van my gehou
ek onthou hoe jy my hare uit my gesig vee
happy new year van abba
en hoe my pa vir my smile
want
ek weet, hy het geweet dat ek nie
so in-to-you was nie
en ek het geweet
dat ek op pad was
bloemfontein toe
op my pad uit
dis dié dat ek soos ‘n nimf
uit die see
by
uvongo
kon loop

volume 2:  1982 ~ 1999

port shepstone

ons eerste vakansie saam
die geel renault
my indiese rok
peter sarstedt
son… see
en francoise hardy

uvongo

passie
ons eerste tent
huis-huis
toe jy my nog spesiaal laat voel
en muis genoem het

later
twee klein kindertjies
‘n kano
weerbarstigheid
sand
en die harde kyk in jou oë

san lameer

luxury
the pilot’s wife
en alleen

as ek toe maar geweet het
wat lê als nog voor
sou ek dalk omgedraai
en in myself gaan wegkruip het

ek dink dit was ons laaste natal vakansie

volume 3:  2017 and beyond (noem dit maar ontwaking)

san lameer

ek wil nie meer net
hier
op
die
kantlyn
staan
nie

ek wil my voete
diep
in
die
sand
indruk

ek wil die wind
in
my
gesig
voel

en my hart wyd
oopmaak
om
ruimskoots
te
ontvang

dit was aand
en dit was môre
die
eerste
dag

 

2 thoughts on “memory lane”

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Share on social

South Africa’s Protection of Personal Information Act (POPIA) & Cookie Consent

We will not sell, share, or rent your Personal Information to any third party or use your email address for unsolicited mail. Any emails sent by us will only be in connection with the provision of our services and/or the marketing thereof. We use cookies on our website to give you the most relevant experience by remembering your preferences and repeat visits. By continuing in the website you accept the use of cookies.