26 Maart 2018
Dit gaan maar altyd oor keuses en vandag is só ‘n dag. Ek is op my eie, so ek kan by die huis bly en DVD’s kyk, of ek kan Gaungzhou tackle.
Mens kan in Pretoria by die huis bly, so ek besluit om die pad te vat.
Ek het op dag twee ‘n spierwit tas met rooi blommetjies op gesien en dit nie gekoop nie want ek kyk mos nog… wel ons is nou al twee keer terug en kan die tas glad nie vind nie.
So, vandag gaan ek alleen en ek gaan die area fynkam. Gisteraand het ek my roete beplan, so ek is gereed.
Hy het vir my mooi verduidelik dat ek by die regte uitgang moet uitloop anders steek ek my kop bo die grond uit op ‘n vreemde plek. Ek maak so, en voel baie dapper vir die eerste 30 minute. Daarna lyk alles vreemd.
Ek hou kop en loop die strate sistematies. Ek sien baie interessante plekke en goed maar ek is totaal en al verdwaal.

Die grafitti op hierdie muur maak ‘n mooi prentjie.

dit is ‘n baie mooi muur, maar ek soek ‘n tas…

Ek dink hier bly ‘n hippie, want die geel blom draai vrolik in die wind
Ek kom baie vinnig agter dat daar bitter min mense in Gaungzhou is wat Engels praat. Almal is baie vriendelik maar sommige wys regs en ander links as ek aanwysings vra.
Ek het ‘n paar keer botstil gaan staan en met myself gepraat, bly kalm; besluit net; gaan huis toe; hoe kom ek by die huis; stoppit net ~ jy kan hierdie doen.
As mens verdwaal sien jy allerhande ander mooi goed. Soos hierdie verweerde deure…


En as mens verdwaal dan sien jy detail…



En jy sien stokou fietse…

As jy by baie donker gangetjies inloer sien jy beautiful hout trappe…

En selfs al stel jy glad nie belang in kos nie, word die stalletjies langs die pad interessant.


As jy verdwaal dan probeer jy doelgerig lyk. Selfversekerd, sodat jy nie uitstaan nie. Maar om eerlik te wees, is dit moeilik om ‘n verdwaalde Westerling in ‘n bont broek in China weg te steek.
Links, of regs vra ek myself. Geen idee.
Be decisive.
Right or wrong
make a decision.
The road of life
is paved with
flat squirrels
who couldn’t
make a decision.
As jy verdwaal dan gaan staan jy eers ‘n rukkie by een van die mooiste bome wat jy nog ooit gesien het. Dan raak jy kalm en begin die metro soek.

Maar net toe ek die metro se teken sien, toe trek ‘n tee winkeltjie in ‘n nou stegie my oog. Daar is die mooiste teepotjies, ek draai af om te gaan kyk. Die eienaar is baie vriendelik en groet my in Engels.

O, this is wonderful, sê ek. Do you speak English? Yes, sê hy, en toe begin hy met my Chinees praat, trek ‘n stoeltjie uit en begin om vir my tee te skink. Dis ‘n vreemde situasie dink ek. Ek haal my papiertjie uit om vir hom aanwysings te vra, hy lees aandagtig en toe skryf hy vir my stap vir stap hoe ek moet loop.

Hy staan op en vat my tot by sy winkel se deur. Verduidelik vir my in Chinees, met ‘n vriendelike glimlag, in die teenoorgestelde rigting van waar ek laas die metro teken gesien het.
Wel dan gaan ek nie nou huis toe nie, ek gaan nog ‘n bietjie soek na Changxiajiu Lu ek het mos nou aanwysings. Toe ek weer kyk toe is ek in ‘n miernes van agterstraatjies. Ja Liza, jy is ook maar lekker stupid, dink ek.
Jason Bourne movies begin in my kop draai en ek dink dat daardie vriendelike man teen hierdie tyd al sy kriminele vriende kon laat weet het dat ek in hierdie doolhof rondloop.
Ek is baie bly ek het nie sy tee gedrink nie. My verstand is darem helder, maar ek is regtig vies vir myself. En ek het geen idee waar die metro is nie. Ek wil ook nie omdraai nie want wat as hulle my agtervolg?
Toe ek opkyk toe sien ek waarvoor ek gekom het.

Ek loop kruis en dwars en soek vir die tas maar kry nie die winkel nie. Ek besluit dat ek sal moet settle vir iets anders as ek ooit vandag by die huis wil kom.
Daar is regtig net te veel opsies in China en ek trek my sak reg.
Nou gaan ek barter.
‘n Paar uur later rol ek my tassie daar uit en ek smile want ek het baie min daarvoor betaal. Ek sien die metro teken en net toe ek in die grond wil insak toe sien ek dat ek by ‘n heel ander stasie is. My app help my om koers te bepaal en skielik voel ek vry!

Dis eers toe ek op die trein is dat ek onthou my pa het altyd hierdie simpel ding gesê wanneer daar ‘n kommunikasie gaping was. Hy sou ‘n misverstand as volg verduidelik…
Daar is probleme wanneer iemand kom met inligting of ‘n opinie en iemand anders keer. Dan sou hy vir sy eie grap lag terwyl hy vir my vra of ek weet dat dít is waar die definisie van kommunikasie vandaan kom.
Kommunikasie beteken ek kom, en jy keer.
Pa was reg dink ek.
Dit is eintlik heel eenvoudig en daarom is dit so kompleks.
16 km op my fitbit vir vandag en ek is veilig by die huis.
4 thoughts on “ek kom, en jy keer”
Hoed af vir jou! Dis nie enigeen wat kan kalm bly as sy in ‘n “dodgy” Chinese buurt verdwaal nie!!
Wow!!! Jy is ń bobaas reisiger/toeris! En jy het sowaar ń tas gekry en self daarvoor onderhandel. Ek vermoed jou seun glimlag breed vir sy ma wat so in China regkom.
‘n Tas gekry om baie memories in te pak. Maak gaatjies tussen alles en pak mooi daarin. Jy is awesome om jou pad te vind. Voorentoe. Soos altyd.
Ek pak met oorgawe. Jy weet hoe dit is…vorentoe… anders sink jy.