die riempiesbank


Die Geskiedenis

Die riempiesbank is ‘n Vorster familie erfstuk wat deur geslagte heen as trou geskenk gegee is aan die oudste seun wat die familienaam voortgedra het.

My pa Daniel Theodorus Vorster was die wettige erfgenaam, maar oupa Johannes het halstarrig aan die bank vasgehou. So het dit gekom dat my pa nie sy bank gekry het nie. Dit was ‘n teer punt vir my pa en hy was hartseer daaroor.

Hy het vir ons vertel dat die bank deur een van sy voorsate in die konsentrasiekamp met ‘n mes gekerf en aanmekaar gesit is, (of dit waar is weet ek nie maar dit is die storie rondom die bank wat aan ons oorvertel is).

My pa het ook baie herhinneringe aan sy oupa gehad wat op die stoep, op die bank gesit en biltong kerf het.

Op die armleunings kan duidelike merkies gesien word waar die knipmes die hout getref het.

My pa het nie ‘n seun gehad nie en vir my gesê dat ek die riempiesbank sal erf as die oudste Vorster dogter, van die wettige erfgenaam.

Op ‘n goeie dag het oupa Johannes besluit my pa kan sy riempiesbank kry, my ouers was ongeveer drie-en-twintig jaar getroud. Nadat oupa die bank afgelaai het, het my pa gelukkig gelyk en die bank was ‘n pronkstuk in my ouers se huis.

Die dag toe ek trou, besluit my pa dat hy daardie bank onmiddelik vir my gaan gee. Jy gaan nie so lank soos ek wag om die bank te geniet nie, het hy gesê. Hy het sy woord gestand gedoen en een van my eerste meubelstukke was die riempiesbank.

Eendag het ons vir die soveelste keer getrek en my man het vergeet om tou saam te neem. Hy het die bank opgelaai (sonder om die sentiment agter die bank te verstaan), sy knipmes uitgehaal en die riempies losgesny om te gebruik as tou om items vas te maak.


Die struggle 1983 – 2023

Die stukkende riempiesbank het al die jare in my huis gestaan met die flenter riempies. Dit was nooit ‘n prioriteit om dit reg te maak nie. My kinders is gebore, grootgemaak, daar was ‘n egskeiding in 2000 en daarna nooit geld om die riempies te vervang nie.


Ek het vir my seun gesê dat hierdie bank volgens oorlewering sy erfstuk sou wees. Ek het ook besluit dat hy nie vir die bank sal hoef te wag nie, ek sal dit dadelik aan hom gee as hy trou.

Uit nood moes ek al my antieke meubels verkoop in 2010 – maar die bank het gebly. Hierdie bank behoort nou aan my, het Gerhard gesê. Ek gaan oupa Danie se eer gestand doen deur die bank voort te dra deur my nageslag. Toe trou Gerhard met ons Kanadese Whitney en alles behalwe die bank kan saam met hom sy nuwe lewe begin.

Ek moet eerlik wees en sê dat die bank naderhand nogal vir my ‘n probleem geraak het. My lewe het al hoe kleiner geword, die vertrekke al hoe nouer en die bank neem plek op. Dit is ook nie funksioneel nie, niemand kon op hom sit nie. Ek het my bes probeer om dit altyd mooi te laat lyk en deur die jare baie komplimente gekry vir die mooi bank.

Een keer tydens ‘n telefoon gesprek met Gerhard, oor duisende myle, het ek vir hom gesê ek kan nie meer die bank so met my saamsleep nie. Ma, het hy gesê, ek wil nie hê dat ma die bank moet verkoop nie. Daardie bank het ‘n storie en ek is die erfgenaam. As die bank so ‘n probleem raak sal ek kom en daardie bank met my eie hande uitmekaar breek en in die vuur gooi. Ek sal dit doen vir myself en vir oupa Danie. Nie een van ons kon daardie bank geniet nie en ek sal die nagedagtenis aan oupa Danie eer. Niemand anders kan daardie bank besit nie, ek was te lief vir oupa.

Een naweek verlede jaar kuier my jongste suster by my en kyk na die bank. Jy weet dat jy nog nooit jou erfstuk kon geniet nie, sê sy. Hy was nog altyd stukkend. Toe sê sy die volgende woorde wat my diep getref het:

Van dat ek kan onthou was die riempiesbank ‘n issue. Pa kon hom nie kry nie, toe gee hy hom vir jou toe hy hom uiteindelik kry, want dit is kosbaar. Ek was al baie in my lewe in jou huis wat hy stukkend was, ek onthou dat jou man dit stukkend gesny het toe julle moes trek en pa se hart was baie seer.

So het jy jou hele lewe getrek met die riempiesbank, hy is altyd so ‘n mooi feature maar mens kon nooit op hom sit nie. Toe ek jou help om jou skilderye op te sit in Kiepersol, en die riempiesbank is weer daar op so ‘n mooi plek, maar hy werk nie, toe voel dit net vir my asof ek vir jou moet sê jy moet die riempiesbank regmaak, want mens dra al daardie gebrokenheid saam met jou en jy aanvaar dit amper en jy sleep dit soos toiings agter jou aan. Eers as mens iets regmaak, dan volg die hart die aksie en jy claim jou healing.

Dis vir my belangrik. Ek voel jy moet die riempiesbank regmaak. Die amazing verskil wat dit sal maak om net daar in te kan kom en hy is reg, hy is perfek, hy kan op gesit word. Snaaks dat iets wat so ‘n seer-oog is (en jy voel altyd ‘n pyn as jy daarna kyk, dat daar seerkry was), dat dit nie tot sy volle waardigheid staan nie en nooit tot sy reg kom nie, dit is net so ‘n gemors. Mooi van buite maar ‘n gemors van binne.


Die Oorwinning 2024

Toe ek in my forever huis intrek is daar ‘n perfekte plek vir die riempiesbank. Hy staan daar en pronk ten spyte van die stukkende riempies.

Gerhard bel my op my verjaarsdag. Ek wou vir ma bederf met ‘n voucher by Kalm of Sorbet maar het besluit om vir ma kontant te stuur sodat ma daarmee kan doen wat ma wil.

Net nadat ek die telefoon neersit besluit ek dat ek hierdie geld gaan vat om die riempiesbank reg te maak. Ek bel rond en kom op die pragtige Nomsa af.

Sy kom haal die bank en binne twee dae staan die bank heelgemaak en beeldskoon.

In memoriam

Liefste Pa,

Dankie dat pa die riempiesbank vir my gegee het veertig jaar terug. Ek is jammer dat pa dit nooit kon geniet nie en dat pa nooit ‘n woord gesê het oor die riempies wat so verniel by my gestaan het nie. Gerhard het die bank gered toe dit vir my ‘n las geraak het.

Die riempies is gerestoureer en ek geniet die bank nou elke dag van my lewe. Ek gaan pa se wense gestand doen, Gerhard sal dalk ook (nes pa) nie die voorreg hê om die bank te geniet nie. Maar die bank sal nou na pa se eerste kleinkind toe gaan. Haar naam is Isabelle Rae Thalia Borstlap en pa sou haar so geniet het.

Ten spyte van alles het die bank behoue gebly en daarmee saam die nagedagtenis aan Pa. Ek was nie ‘n seun wat die naam verder kon neem nie en pa se familienaam het saam met pa gesterf, maar hier is ‘n sterk lyn wat kan voortgaan om die geskiedenis deel van die toekoms te maak.

Ek was so lief vir pa.

Oudste

Riempies – Nomsa Brown 068 315 2417 of exquisitecane@gmail.com

Share

19 thoughts on “die riempiesbank”

  1. Annette Croeser

    Liewe Liza

    Ek waardeer jou stuk so baie! Dit het my laat dink aan my tuin en my rose. 

    Nog voor ek geskei is het ek n klomp can my rose in potte geplant. Daar was baie rose en ek kon net klompie daarvan uithaal. Maar dit was deel van die afskeid proses van my huis en my tuin. Ook maar net sowel aangesien my eks elke plant in die tuin laat uithaal het nadat ek.uitgetrek het.

    So het ek my rose saamgetrek van een plek na die ander. So 2 jaar terug besluit ek om al die rose uit te pluk en nou daarmee ‘klaar’ te maak. Teen my aard in sal ek maar vetplant tuin maak want dit sal makliker wees om te onderhou. In die tyd het ek n soelkundige gaan sien oor n sakie of twee en die rose het op n manier in die gesprek uitgekom. Sy het dadelik vir my gesê dat ek dit nie mag doen nie. My roostuin is deel van wie ek is en as dit uitpluk gaan ek n stuk van myself verloor. 

    Ek sal haar vir altyd dankbaar wees. vandag het ek weer n tuin met 10 of 12 rose in. En dit bring vir my soveel vreugde. En genesing. 

    Ons verstaan nie altyd Vader se weë nie. Hy gebruik die vreemste manier om ons te geherstel. 

    ‭‭’Hulle sal geboue herstel wat lank verwoes gelê het. Plekke wat vroeër afgebreek was, sal hulle weer opbou. Hulle sal dorpe wat geslagte lank verwoes gelê het, nuut maak. Isa.61.4.DB

    Liefde

    Annette

    1. Dankie dat jy jou storie met my deel ❤️ ek is só bly oor jou rose en bid dat hulle (en jy!) hierdie jaar uitbundig sal blom. Liefde xxx

  2. louisehamlyn@gmail.com

    Dankie dat jy hierdie stukkie geskiedenis uit jou lewe deel, Lisa! Die simboliek van genesing en restourasie is baie spesiaal. In ons huis staan ook oudhede wat my man van sy voorouers ge-erf het. Elke keer as ons trek, is dit ‘n hele storie om alles ingepas te kry (town houses is nie gebou vir meubels uit die vorige eeu nie), maar die meubels bly. Elke stuk het ‘n storie, en soos ek elder gelees het, mens smous nie met jou familie se geskiedenis nie. Hopelik sal ons seuns dit kan geniet wanneer hulle eendag hul eie nessies het.

    Groete daar!

    Louise

    HamLit Projects

    Copy editing|proofreading

    <mailto:louisehamlyn@gmail.com|hamlitprojects@gmail.com> louisehamlyn@gmail.com|hamlitprojects@gmail.com

    083 966 9627

    1. Dis lekker om van jou te hoor! Dankie dat jy jou storie gedeel het, ja ek dink daar gaan pragtige erfstukke teen ‘n appel en ‘n ui met almal wat emmigreer.
      Ek moes van my geskiedenis verkoop in 2010 en mens vergeet dit nooit.
      Liefde! xxx

  3. Una se gedagtes

    Ek glo jy kry lekker tot in jou kleintoontjie elke keer as jy hierdie kosbare bankie met sy mooie kussings sien, Liza. Geen nuwe meubelstuk kan ooit die erfstukke se stories oorneem nie.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

South Africa’s Protection of Personal Information Act (POPIA) & Cookie Consent

We will not sell, share, or rent your Personal Information to any third party or use your email address for unsolicited mail. Any emails sent by us will only be in connection with the provision of our services and/or the marketing thereof. We use cookies on our website to give you the most relevant experience by remembering your preferences and repeat visits. By continuing in the website you accept the use of cookies.